Maureen Joubert - BURGER 21 Mei 2001
As jy iets gedoen wil hê, gaan klop by 'n vrou veral 'n
boervrou aan
Die stryd tussen mans en vroue is een wat ek nie hier wil aanpak nie.
Dit kom al van te ver en loop maar altyd op 'n polemiek uit. Wat 'n
mens egter wéét, is dat as jy 'n ding gedoen wil
hê, jy by 'n vrou moet gaan aanklop.
En as jy 'n boervrou by jou behoeftes insleep, kom jy die heel verste.
As skoolmeisietjies en selfs as universiteitstudente het baie van ons
gedroom van 'n ryk boer losslaan vir 'n luilekkerlewe met hope knap
hande wat die lewe se plooie sou uitstryk.
Kom ek op 'n plaas, beny ek steeds die vroue wat so na aan die aarde
kan lewe nie om die tierlantyntjies van die eertydse drome nie, maar
oor die krag en deursettingsvermoë waarmee hulle hul lewe wyd laat
strek.
Vandag se boervrou hou tred met alles wat 'n stadsvrou omgewe.
Sy lees en reis wyd, hou dikwels die plaas se administratiewe sake in
orde, is intens betrokke by haar gemeenskap en in en om die huis staan
haar hande vir niks verkeerd nie.
Sy slyt haar voertuig se wiele op grondpaaie op pad na vergaderings,
kinders se bedrywighede op die dorp, kerk en konserte.
Die ``tradisionele'' plaasbedrywighede bly ook nie agterweë nie.
Sy slag en bewerk vleis, lê van perskes tot olywe in, hou vries-
en koelkas vol en sorg altyd dat daar genoeg te ete is vir onverwagse
gaste.
Vandag sondroog sy ook tamaties, maak kaas van 'n oorskot melk en pars
granate vir 'n somersdrankie. Sy kan brei, klere maak en kwiltwerk
doen, soms skilder sy of doen pottebakkery. En van haar man se boerdery
weet sy soveel soos hy self.
Ek het onlangs weer met boervroue te doen gekry wat my eie lewe na een
lang vakansie laat voel het. Voorvroue waarvoor ek met graagte 'n
lapelwapentjie sal dra.
Op Zandvlakte in die Baviaanskloof hou Magriet 'n geselskap tot
laataand stimulerend aan die gang oor alles wat ons lewens vandag raak.
Van die politiek tot landbou en bewaring. Vir Afrikaans het sy 'n
passie en klets tot vroegoggend op die internet met sielsgenote. Tot 'n
paar jaar gelede het sy 'n suksesvolle wewery op die plaas bedryf.
Vandag bestuur sy gastehuise op Zandvlakte en maak besoekers op die
vriendelikste en gasvryste manier tuis met haar liefde vir en kennis
van haar omgewing. Sy is 'n ambassadeur vir die mooi wildernisgebied
waarin sy woon.
Die byna onherbergse gebied sluit haar nie weg van die wêreld
daarbuite nie. Sy durf moeilik begaanbare paaie aan om dié dinge
te doen wat na aan elke dinamiese vrou se hart lê. En sy fees
behoorlik en omvattend op Oudtshoorn se KKNK. Maar vir geestesverryking
is die plaas en die bergomgewing haar stut.
Christa is 'n boervrou van Somerset-Oos wat borrelend deur die lewe
draf en meer bereik as die gewone stadsvrou ooit van kan droom. 'n
Ganse 200 bokke verlede jaar binne vier dae verwerk ná 'n jagtog
deur Belge op haar plaas sommer so 'n alledaagsheid. En nou die dag 3
300 sosaties vir 'n basaar vir die Silwerjare Huis vir Bejaardes
aanmekaar geryg en ná die verkope R12 000 vir dié saak
afgetel.
Haar uitgespreide tuin wemel van interessante plante en sy deel
oordadig uit sade, plantjies, steggies. En dan is daar nog die
kommersiële blomboerdery, die netjiese rye flesse met haar eie
konfyt en inlêgoeters, biltong, wors en vier kinders. Haar
bejaarde ma word voltyds versorg en daar word na jaggroepe omgesien en
asof dit nie genoeg is nie, is sy 'n suksesvolle sakevrou op die dorp.
En dit doen sy alles met die mooiste, langste, rooiste naels wat ek nog
teëgekom het!
Op Oudtshoorn het twee jong vroue ewe veel beindruk: die bloedjong
eienaars van 'n nuwe restaurant wat besig is om oraloor vir die
allerlekkerste kos en goeie diens bekend te raak. Nou nie boervroue
nie, maar plaasmeisies wat op De Rust by Ma Anne van goeie kos,
gasvryheid en grasie geleer het. Annette en Celia is 'n gedugte span.
Annette agter die kospotte by Jemimas en Celia as vriendelike en
bekwame gasvrou.
Ons het te voet by die eetplek opgedaag nadat ons motor voor ons
verblyfplek die gees gegee het. Toe Celia daarvan te hore kom, het sy
oorgeneem.
Ek bel net gou vir Rodney Mileham,'' het sy gesê, met die belofte
dat dit die einde van ons probleme sou wees.
Ná 'n heen-en-weer-gesprek oor die voertuig op die telefoon is
ons verseker dat iemand die motor kort ná sewe die volgende
oggend sou kom insleep en die werk so gou moontlik afgehandel sal wees.
Vyf oor sewe was die werktuigkundiges daar en teen nege-uur kon ons die
pad vat Kaap toe, met herinneringe aan 'n genoeglike aand met sielskos
en uitmuntende diens.
Terug na Indeks
************************************************************************************
Mariska Spoormaker - Van Alle Kante: Oos - Kaap Burger: 18
Oktober 2006.
ELKE keer as ek die ware Baviaanskloof van Willowmore se kant af
binnery, staan my oë op steeltjies vir die aardeprag.
Eers is dit net 'n vaal vlakte, dan 'n hoogte wat 'n voorsmakie gee van
wat op jou wag: berge, berge, berge.
In die kronkeldraaie van die Nuwekloofpas sukkel dit om aan die ry te
bly. Klapperbos teen die oopgevoude landskap vra om afgeneem te word.
Dan weer die rotsformasies, die klowe.
Dit is ry, stop, ry en stop op 'n grondpad wat só goed geskraap
is dat jy met 'n stokou Mini daar kan ry.
Net in die driwwe kan dit lol, want ná die goeie reëns loop
die water lekker. En dié water moet jy bakhand drink voordat jy
verder ry, anders tref die ongeluk jou drie dae lank.
Dis Colijn Scheltema wat só sê. Maar dié keer los
hy sy bygeloof en stoot aan. Die horlosie wys tydmoeilikheid vir die
volgende afspraak by Piet en Griet se plek. Maar eers moet ons nog een
van die kloof se heilige plekke aandoen.
Want woord maak wet. Sowat 'n maand gelede het Colijn aan my
gesê: "Jy mag niks meer oor die Baviaanskloof skryf voordat jy
die heilige plekke besoek het nie."
Toe het ek gedink hy is van lotjie getik. Die Baviaanskloof en die
omliggende groter Baviaans-bewaringsgebied is pure Kanaän, maar
dis asof die Oos-Kapenaars nie die beloofde land raaksien nie en aanhou
swerf na ander plekke. Hoe kan hy, self 'n boorling van die gebied, dan
nie wil hê ek moet nie meer daaroor skryf nie?
Noudat hy my sy heilige plekke gewys het, verstaan ek beter. Jammer, ek
het belowe ek sal nie oorvertel nie.
Maar ek weet nou hoekom elke boer hom bloedhande werk om daar te kan
bly en die staaltjies en liegstories oor hulle verduur. Daar is mense
wat dink daar moet 'n ernstige skroef los wees met hulle wat so ver
buite die beskawing wil bly. Só ver van alles, hulle moet dom,
dik en moeilik wees. Doer onder die klip, ver agter die berg.
Soms skrei dié soort besoekers se aannames en onkunde in hul
vrae só ten hemele dat hulle die antwoorde kry wat hulle
verdien, vertel 'n Baviaansklowenaar my en noem die voorbeeld van die
deftige vrou met dié snaakse vrae: "Hoe kraam julle hier?"
"Ons gaan hurk in die veld en sny die naelstring met die
skaapskêr af," kom die antwoord.
"O."
"Maar hoe kom julle by die tandarts?"
"Ag, Piet hierbo het gelukkig 'n goeie tang. Hy trek maar."
"Oe!
"Maar sê my," gooi die klowenaar toe háár vraag,
"wie regeer nou die land?"
'n Laggie. "Die ANC."
As 'n reël maak sy nie nes in die hare van besoekers wie se
onkunde so aanmatigend is nie, verduidelik sy nadat die grootste lag
gaan lê het. "Maar 'n mens raak later só moeg verduidelik
dat die bordjies 'n bietjie verhang moet word."
Laat sy dan wegry met wat sy wou glo, nie met wat die waarheid is nie.
Laat sy dan haar naam gaan gat maak buite die Baviaanskloof as sy loop
oorvertel.
Bordjies verhang. As jy my sou vra, is dít die beste vorm van
komedie. Maak jouself die grap ten opsigte van swakhede en aannames wat
so bekend voel en klink. Lag die man jou uit, lag hy eintlik homself
uit; hy weet dit net nie. Ek het Nataniël eens in Johannesburg so
beleef. Eindeloos het hy aangehou oor al sy hang-ups van bure vergelyk
en bure beïndruk en hoe hy elke keer stamp. Die rykes van
Northcliff het gelê van die lag. Dié Nataniël darem.
Dan is daar die vlakker vorm van komedie. Tipeer 'n mens, kultuur of
gebied, maak dit gat.
Maar dis komedie wat ook kneusplek soek. Soos die man wat aan Mike
Schutte gesê het hy is dom, hoor net al die grappe. Toe kadwa!
klap Mike hom.
Dis nou nie dat die Baviaansklowenaars links en regs aan die klap wil
gaan nie, maar iemand met sagte hande en halwe inligting moet hom nie
kom dom hou in die kloof nie. Dis slimgeit vir 'n beter lewe wat hulle
daar laat bly, tussen al Colijn Scheltema se heilige plekke.
mspoormaker@dieburger.com
Port Elizabeth
18 Oktober 2006
Terug
************************************************************************************
Magriet Kruger:
SARIE: 9 Maart 1988.
Vra
jy die pad van die Baai af, sal jy dit altemit só beduie kry: '
Kyk, jy ry nou deur Patensie en jy hou aan ry, tot daar waar jy voel
die Here verlaat jou nou hier. Met ander woorde: as jy voel jy is nou
in die hel, moet jy weet dis nog baie verder. ' Magriet Kruger is een
van die geslag jong vroue wat die stad vir die platteland verruil het.
Sy skryf oor Baviaanskloof, haar aangenome kontrei.
Twee kilometer vanaf Willowmore, op die Graaff Reinet / George - pad,
staan daar 'n bordjie: Baviaanskloofberge. Jy sien dit net skrams raak
op pad na die Kaapse strande. Sodra jy verby is, vergeet jy gou weer
daarvan.
Maar dit is hier, tussen die Kouga- en die Baviaanskloofberge, waar 'n
versteekte paradys lê.
Al wat jy sien, is berge, nogmaals berge en die kronkelende afgronde.
In die niksheid wat jou toevou, tussen die geelhout-, witstinkhout-,
wildevy- en witgatbome deur, kronkel die stofpad oor berge en
waterstroompies, langs baie soorte varings, lelies en broodbome verby.
Oor Combrinck-se-berg, tussen heide en proteas deur, kan jy, as jy mooi
kyk, nog die kabelspoor sien waarmee die eienaar tot onlangs toe bokke,
veevoer en rantsoene van die een berg na die ander vervoer het.
Net daar waar jy wonder hoeveel berge jy nog moet oor, maak die vallei
by die Waterpoort skielik voor jou oop en begin die tekens van lewe
stadig tot jou deurdring. Hoe verder jy ry, hoe platter en oper vou die
berge voor jou weg. Jy sien die bokkies in die kranse baljaar en die
voetgangers groet vriendelik.
Gesels jy met die inwoners van hierdie Klein Eden, straal daar 'n
liefde vir hierdie wêreld deur.
By Kleinpoort Handelaar, Lukas en Aletta Smit se winkel met die
handsentrale, maak jy kennis met die barometer van die kloof se
aktiwiteite en gebeure. Hier koop jy katoen vir laslap, outydse
melkdoek, rou lynolie by die liter en naeltjie-olie vir tandpyn, en
drink 'n blikbeker koffie terwyl jy kuierkoop.
Oom Lukas Smith vertel van die ou dae toe die vallei so vol turksvye
was. In 1944 kom die staat toe die turksvye uitroei.
Op die vraag hoekom hulle die turksvye dan wou uitroei, antwoord Aletta
eerste terwyl oom Lukas nog nadink: "Die mense het te veel verstop
geraak en in daardie dae was daar nog nie 'n ding soos lawement nie."
"Nee," antwoord oom Lukas terwyl daar 'n geskater is, "die donkies se
bekke was behoorlik vrot van die turksvydorings en hulle kon dan nie
vir die boerdery gebruik word nie. Toe't die Staat hier in die oorlog
die goed laat uitkap en met cochenille besmet. Daarná was die
wêreld minder ruig en kon met bokke geboer word."
Oom Francis Nortje, broer van die skrywer P.H.Nortje, onthou met
nostalgie die lekker speel ondanks die groot armoede en swaarkry, Sy
oë blink as hy terugdink aan die bloekombos langs die huis waar
die kinders tussen die klein boompies paaie gemaak en kamma-kamma van
vuurhoutjiedosies wa en osse gemaak het waarmee hulle dan tussen
hierdie klein boompies deur getrek het. Steyterville en Willowmore toe.
Eendag kom sy neef wat so twintig was daar aan. Hy wat oom Francis is,
staan toe so en dink: Ek wil tog nooit so groot soos jy word nie, want
dan sal ek nie meer so lekker kan speel nie.
"Die klompe kinders van die bywoner-gesinne was my lekkerste speelmaats
op die werf. Hul ouers het om 'n halfdeel geboer; almal het in daardie
jare swaargekry. Maar daar was baie vreugde in ons armoede. As kind het
jy nooit die omvang van jou ouers se bekommernisse en wanhoop geken
nie."
Vir 'n deurganger of vreemdeling is die vallei oënskynlik 'n
verlate paradys waar inwoners hardnekkig vasklou en gevestig bly.
Maar sou dit jou lot word om 'n nag of langer te vertoef, staan jy in
'n woelige miernes en maak jy kennis met die eenvoud van
boere-gasvryheid.
Jy kry 'n voorsmakie van die vallei se eie koffie. Hier gekweek, geoes,
gebrand en gemaal. En dis eksklusief. Dit word nie bemark nie en net
aan uitgesoekte gaste voorgesit.
Die Kloof se gasvryheid is alombekend. Kry jy biltong, groente en
volstruiseiers in jou ryding, moet jy tweekeer dink voor jy aanbied om
daarvoor te betaal. Die inwoners vergeet so 'n belediging nooit. Al
betaling is 'n dankiesê-briefie agterna en 'n weer-kom-kuier met
jou hele gesin.
Aan kontak met die stede ontbreek dit ook nie.
Oom Boet Strydom van Drinkwaterskloof, bekend vir sy pienk gehekelde
hoed, wou al 'n slag vermoed dat die Here vir tannie Babes hier op
aarde vergeet het. Sy was dan al 91 en kon nie tot sterwe kom nie!
Sy ervaring met die stad het hy amper diplomaties aggressief uitgedruk.
"Jong, as jy nou wil sien hoe lyk Sodom en Gomorra, moet jy
Johannesburg toe gaan. Hulle vat my daar op in een of ander hogere
toring, teen my sin, hoor. Toe ek daar bo kom, sien ek wat ek altyd
vermoed het. Ek sê vir Mavoureen, sien jy nou. Ek het jou mos
gesê. Hier staan die wêreld op sy kop! Al die sterre skyn
van onder af en daar bo is dit piknag donker. Nee kyk, hier moet ons
uit! Maar 'n man het mos nie meer sê in sy eie huis nie."
Oom Lieb Bekker van Matjiesfontein, die héél
afgesonderdste plaas in die vallei, wou op slag huis toe kom toe hy in
Pretoria sien hoe die ou wasgoedjies doer bo in die lug wapper en die
arme ou kindertjies in sulke voëlhokkies vasgekeer sit.
"Hier leef ons, ek en my broer Jan en onse vrouens, nou lekker man. Vir
'n ding soos 'n televisie gaan ek ok nou nie met 'n battery onder die
arm hier teen die berge op nie. Nee wat, hier gaan ons buitendien saans
vroeg lê."
Oom Jan Bekker val in met: "Dis die naaste aan die hemel wat jy op
aarde maar kan kom."
Maar uit die stad, uit Pretoria en Bloemfontein en Kaapstad en Port
Elizabeth, kom 'n nuwe geslag jong vroue die geledere aanvul. Saam met
hulle bring hulle kennis van die weefkuns, leerwerk, fisioterapie,
maatskaplike werk en geologie.
Natuurlik gee 'n mens baie prys. Maar in die plek van die gerieflike
inkoopsentrums, intellektuele stimulasie en gemak, kom die vryheid vir
ons kinders. Geen vrees vir aanrandings, dwelmmiddels en beperkte
speelruimtes nie. Geen bure wat kla oor 'n boomhuis wat die buurt
ontsier nie. Ons kinders kan soveel diere aanhou soos hulle wil, die
veld en berge na hartelus verken en in 'n gesonde verhouding met ander
volke vriende maak en mekaar speel-speel by 'n draadkar leer ken.
Die Baviaanskloofvallei. Vergete paradys. Hier waar die oue langtand
die nuwe ontmoet. Aan die een kant nog die hand geoeste mielies en
vloedbesproeiing met 'n graaf; aan die ander kant die moderne
oesmasjinerie en die spilpunte vir besproeiing.
Tant Issie Stroebel kan maar net nie gewoond raak aan die dorp waar sy
nou woon nie:
"Ag hene tog, my ou hartjie, dissie onse gewoontes hierie nie. Dis jonges en oues deurmekaar. Ek sê hulle kan maar nog drie
predikante kry, hulle sil nog nie die spul kry dat hulle koers vat nie.
Ek is in 1908 in die Kloof gebore, ja die ouderdom begin nou vatplek
kry. Ag foei tog, my ou hartjie, in daardie dae het die water sommer
nog in sulke vlakslote geloop. Maar deesdae moet die boere al hoe
dieper grawe en die rivier is ook so vals."
Vir die stedeling is hierdie afgesonderheid en eensaamheid 'n skielik
te staan kom voor jouself en die dinge binne-in jou wat jy nie eens
gewete het bestaan nie.
Vir die inwoners is die afgesonderheid en eensaamheid 'n illusie.
Leo en Erika Latti op Dam-se-drif voorsien die hele wêreld van
vetplantsaad, en liefhebbers van eksotiese plante dwarsoor die
wêreld ken hulle.
Die buitewêreld is net 'n telefoon ver.
Toeriste wat met bussies hier deurkom, slaap by die huise. Soms is dit
'n sonde om hulle weer in die bussie te kry om verder te gaan. Party
dreig om hul toere verder deur die land te kanselleer. Baie van die
mense kom weer terug, elke jaar.
By die bruin inwoners kry jy nog die resep vir 'n kultuurerfenis wat
van die Boesmans oorgeneem is: heuningkarrie. 'n Skopverfrissing wat
die "Five Star" of die "Box" - dit is nou die polisie - hoofbrekens gee.
As jy by die reuk kan verbykom, smaak die heuningkarrie nogal nie te
onaardig nie. Skoon karrie word van heuning en suiker en erte gemaak.
En dan het jy ook dié wat gebrou word van semels, suiker, water
en suurdeeg.
Een storie wat met smaak vertel word, is oor hoe Pieter Kruger se twee
mak bobbejane, Doorsie en Trensie, wat daar by hom in die huis gebly
het, die karriemakers laat les opsê het. Dié bobbejane was
nou vir jou mal oor karrie.
Elke keer as die drom begrawe word - dis nou terwille van die Five
Star, sien - " dan kom grawe die bobbejane die drom uit en suip al onse
karrie op."
"Jy kon nie huis hou met die twee onbruikbare goed nie. Op 'n dag is
die honne toe op hulle gesit en Doors, wat vreeslik gesuip was en nie
kon weghol nie, het in die stof gebyt. Trens het nog lank geleef, maar
nooit weer haar voete by die karriekanne gesit nie," onthou my segsman.
Petro Du Preez van Casey vertel hoe die kortisoon in die skilpadplant
die Boesmans aan die lewe gehou het as hulle so op die trekpad was. Vir
sere en wonde het hulle 'n salf van die gemaalde dop gemaak, en die
gifbol met sy pragtige rooi blom is gebruik vir gif om hul pyle mee te
smeer.
Die Boesmantekeninge wat hier volop in die bakkranse voorkom, word
jaloers deur die inwoners beskerm. Van die maalklippe wat die Boesmans
gebruik het, word nog gereeld in die veld opgetel.
Die Kloof is selfvoorsienend in al hul behoeftes. Die dorp is net 'n
plek vir skool en die noodsaaklike dingetjies. Die kontak word meestal
daartoe beperk, weens die groot afstande en die swak toestand van die
pad na Humansdorp se kant toe.
By Withoogte, op pad uit, skiet die pad jou op, op, op tot bo in die
aangesig van die rustige wye oop Karoo. Agter jou lê die ruwe
rooi-oranje rotse van Nuwekloof, laag op laag gestapel teen mekaar. Jy
staan verwonderd en dink aan die baie natuurskatte en die diepe
menslikheid wat daaragter verskuil lê..
Terug na Indeks
******************************************************************************************
Deon Meyer: Burger 20 Julie 2004
Die Baviaansrivier word 'n hele paar keer op die roete oorgesteek.
Trek maar stewels aan wat nie gou sal nat word nie. Foto: DEON MEYER
IN 'n 2003-opname onder avontuurtoer-motorfietsryers is hulle gevra
watter Suider-Afrikaanse roete hulle die graagste sal wil ry. Die
antwoord was redelik eenstemmig : die Baviaanskloof.
Die rede is bes moontlik dat dié legendariese stuk pad alles
bied wat jy op 'n dubbeldoelfiets wil ervaar: Paaie wat jou tegniese
vaardigheid uitdaag sonder om gevaarlik te raak. Mense -- elkeen met sy
eie storie. En 'n geskiedenis wat duisende jare terugstrek, tot by die
San-mense wat hul wedervaringe in rotstekeninge nagelaat het. Maar
bowenal ry jy deur die Baviaanskloof vir sy ongelooflike verskeidenheid
en skouspel van landskap.
Tussen die N9 en Adamskraal lyk dit maar net na nog 'n pad deur die
Klein-Karoo se golwende renosterbos-oopte. En dan tref jy die
Nuwekloofpas, 'n skielike, diep canyon met sy manjifieke rotsformasies
wat bo jou uittoring. Deur die Sleutelgat -- die nouste punt van die
hele kloof -- en dan raak die pad breed, die rotse roesrooi en
volstruise draf saam as jy van Studtis weer die versneller oopdraai.
Anderkant Zandvlakte verander alles weer: bergwêreld, 'n smal pad
wat slinger, donker riviere en doringbome.
Ná Doodsklip begin die Holgatpas en die pad is nou ongelyk , met
erosieslote wat jou hortend die steiltes laat uitry, tot amper bo, van
waar jy afkyk op die asemrowende vallei .
Hoër en hoër, tot Bergplaas se grasplato die wêreld
voor jou gelyk maak en vir die nuwelinge tot die kloof laat glo die
reis is amper verby. Maar die eerste draai van Combrinck se pas bring
'n nuwe, verstommende vista -- die pad is 'n lang, geel, kronkelende
slang, lui in die laatmiddagson teen die berg se hange, tot doer onder.
Jy kyk oor drie bergreekse heen en tot by Hanekam, die Oos-Kaap se
hoogste spits.
Die vraag is natuurlik: As so baie ryers die Baviaans wil ry , waarom
kom so min van hulle daar?
Onkunde is dalk die grootste oorsaak. Daarom bied BuiteBurger
vandeesweek Tien Eenvoudige Baviaansreëls, 'n gids wat jou lag-lag
deur sal kry:
Reël 1: Lees P.H. Nortjé se wonderlike Korsies van
growwebrood . Dit vertel van die skrywer se grootwordjare in die
Baviaans .
Reël 2: Bespreek plek by Dave Hodgson se Mountain Pastures (by
Uniondale) en Philip Fourie se Tuinskloof (by Patensie). Dit is
verreweg die beste blyplekke aan weerskante van die Baviaans. O, en as
jy dit oor twee dae wil doen, gaan bly oor by Piet en Magriet Kruger op
Zandvlakte, so min of meer halfpad wat afstand betref.
Reël 3: Ry die Baviaans van wes na oos. Dan maak jy soos oom Piet
Cillié altyd gesê het -- jy eet jou rape eerste. Die
mooiste dele van die Baviaans is die laaste 50 km voordat jy aan
Patensie se kant uitkom.
Reël 4: Sou jy net een dag tyd hê vir die roete, moet jy
vroeg roer. Kom teen 08:00 uit Uniondale weg (met 'n vol tenk petrol,
want dis die laaste kans vir brandstof totdat jy anderkant uit is ).
Slaap jy laat, gaan jy min tyd hê om plekke soos Geelhoutbos,
Rooikloof en Apieskloof te bespied. Probeer om nie later nie as 14:00
by Rooihoek (nie Rooikloof nie!) weg te kom, want hef aan lê dan
eers voor.
Reël 5: Twee dae is ideaal. Vir die meer avontuurlustiges: Neem 'n
tent en gaan oornag by Rooihoek. Dis primitief (wat die massas
natuurlik weghou) en jy moet 'n oog hou oor jou besittings. Met ons
laaste besoek het die bobbejane amper ons valhelms weggedra. (Dink net
hoe sal 'n Duitse toeris skrik as Kees met helm verbykom . . .) Neem in
só 'n geval jou eie eet- en drinkgoed saam, want daar's nie
winkels nie.
Reël 6: Van eet- en drinkgoed gepraat: Selfs al doen jy dit in een
dag, neem genoeg water of koeldrank saam. In die somer is dit snikwarm
en jy gaan baie dors word. 'n Kospakkie vir middagete is ook 'n slim
plan, maar moet dit nie in die motorfiets se dratas sit nie. Die pad
skud te veel -- en teen die tyd dat jy honger is, lyk jou broodjie soos
kapokaartappel . 'n Ligte rugsak is die antwoord.
Reël 7: Die Baviaans is reg deur die jaar rybaar en mooi, maar my
gunsteling tyd is die winter, bloot omdat dit die tyd was wanneer ons
die meeste wild gesien het. En die minste vier-by-viers. In die somer
kan swaar donderbuie die riviere baie vol maak (en die driwwe 'n groot
uitdaging om oor te steek) en die passe vinnig erodeer. Bel maar eers
en hoor of hulle reën gehad het -- en hou die weervoorspelling dop.
Reël 8: Kry vir jou knop-bande. En maak seker jy weet hoe om 'n
pap wiel in die wildernis reg te maak. Die passe veral spog met skerp
klippe en daar is nie selfoonontvangs of motorhawens nie.
Reël 9: Moenie met gemodifiseerde, raserige uitlaatstelsels
dié paradys gaan bederf nie. Jy gaan in elk geval al die wild
die skrik op die lyf jaag lank voordat jy iets te siene kry.
Reël 10: Ry stadig sodat jy kan rondkyk. Al hoe meer mense kry
luiperds te siene (nee wat, jy's veilig op die motorfiets, tensy jy die
Kees met die helm is), terwyl daar talle ander wild is.
Roete-gradering: 2 (As jy 'n passasier agter op het, dalk 3). Afstand:
So tussen 220 km en 240 km -- dit hang af van waar jy oornag. Tydsduur:
Agt uur of langer . Die beste is om dit oor twee dae te voltooi sodat
jy genoeg tyd het om by al die interessante plekke te vertoef.
Gradering-sleutel:
1 -- baie goeie, maklike grondpad;
2 -- grondpad met plek-plek kolle waar jy versigtig moet wees;
3 -- plaaspad wat begin tegnies raak;
4 -- 'n spoortjie wat baie vaardigheid verg;
5 -- 'n adrenalienroete vir die baie, baie behendiges.
Terug na Indeks
****************************************************************************************
Paul Ash
BURGER 15 Maart 1996 – Landbou Burger.
Not Die Ladismith Landboukoöperasie het sopas die eerste
onderneming in die land wat groentesaad geproduseer het, Gellman Seeds
van Oudtshoorn, oorgeneem.
Gellman Seeds het in 1939 op die plaas Zandvlakte in die Baviaanskloof
in die Willowmore distrik ontstaan waar mnr. David Gellman begin het
met saadproduksie.
Aanvanklik is daar slegs een variëteit van elke saadsoort
geproduseer.
Namate die variëteite vermeerder het, is saad aan die bure gegee
om ook te produseer. Die huidige eienaar en kleinseun van die stigter,
mnr. Leib Freedman, het die bestuur van die onderneming in 1957
oorgeneem.
In 1972 is die onderneming van Willowmore na Oudtshoorn verskuif
vanwaar dit nog steeds bedryf word. In die afgelope dertig jaar het
Gellman Seeds 'n puik naam vir gehaltediens en -produkte nasionaal
sowel as internasionaal opgebou.
Ladismith Koöperasie is van voorneme om, ten einde die hoë
standaarde van die verlede te handhaaf, steeds van mnr. Freedman se
dienste as konsultant gebruik te maak.
Terug Na Indeks
*******************************************************************************************
Jason Lloyd- BURGER Forum:
Vrydag 7 November 2003
Kerk: Ontvang eiendom op plaas Zandvlakte
Kultuurskat veilig bewaar
Boer reik hand van versoening uit.
easy to IN die onlangse boek Nelson Mandela -- freedom to the
future (wat deur Jonathan Ball uitgegee is as 'n huldeblyk aan oudpres.
Nelson Mandela met sy 85ste verjaarsdag) skryf die bekende akademikus
en denker prof. Jakes Gerwel in 'n essay oor nasiebou en versoening dat
Mandela steeds glo daar is goeie mans en vroue in elke gemeenskap en
politieke party in SuidAfrika.
Gerwel skryf hy het dié eenvoudige lering telkens herhaal.
Miskien moet die besluit van mnr. Pieter Kruger, eienaar van die plaas
Zandvlakte in die Baviaanskloof naby Steytlerville, om die grond waarop
die kerk van die Congregational-gemeente gebou is, aan die gemeente te
skenk, vertolk word as 'n gebaar om gestalte te gee aan Mandela se
"eenvoudige lering".
Die vriendelike versoeningsgebaar van Kruger kan ook dien as voorbeeld
vir diegene wat -- soos die minister van landbou en grondsake, me.
Thoko Didiza, dit lank terug in 'n ander konteks gestel het -- "bloot
weier of traag is om gehoor te gee aan die Wet op die Herstel van
Grondregte, wat aan Suid-Afrikaners die reg gee om grond terug te eis
wat hulle verloor het weens rassistiese wetgewing ná Junie 1913"
.
Dit is hierdie "weiering of bloot traagheid" wat volgens Didiza
aanleiding gegee het tot die wetswysiging wat haar sal magtig om grond
te onteien sonder 'n hofbevel of om die huidige eienaar daarvan in te
lig.
Wanneer die oorhandiging van die grond Saterdag voltooi is, sal hierdie
gebeurtenis ongetwyfeld opgeteken staan as 'n fundamentele keerpunt in
die ryk geskiedenis van die bestaan van hierdie gemeente, "want dan
gaan nie net die kerkgebou aan ons behoort nie, maar ook die grond
waarop dit gebou is", sê eerw. Allan Hendrickse , oud-leier van
die destydse Arbeidersparty en leraar van dié gemeente en van
die moederkerk (Uitenhage Congregational kerk).
Dit was iewers in 1933 dat eerw. C.W. Hendrickse, pa van Allan
Hendrickse, die gemeenskap van Baviaanskloof op Zandvlakte besoek het.
Daar was toe geen kerkgebou nie. Hendrickse sr. het dadelik begin om
die gemeenskap geestelik te bearbei. Die gemeenskap moes vroeër
oor die berg na Steytlerville gaan as hulle 'n kerkdiens wou bywoon.
Volgens Hendrickse jr. het sy pa in 1933 die eerste kerkdiens vir die
gemeente op Zandvlakte onder 'n akkerboom gehou, "en van toe af het my
pa dienste daar in 'n skuur gehou. Omdat my pa benewens sy leraarskap
ook 'n onderwyser was, kon hy net in Junie en Desember die gemeente
besoek om Nagmaal aan hulle te bedien."
Zandvlakte het in daardie stadium aan ene mnr. Gellman, 'n Poolse Jood,
behoort. Hy het destyds uit Pole gevlug as gevolg van die
1917-rewolusie wat in Rusland onder leiding van Wladimir Lenin gewoed
het.
"Ná Gellman se dood het sy seun, Savie, grond aan die gemeente
verskaf waarop die kerk gebou is, maar die grond het altyd aan die
Gellmans behoort.
"Net die kerkgebou was in die besit van die gemeente," het Hendrickse
jr. gesê.
Toe Gellman jr. in 1976 besluit het om wel die grond aan die gemeente
te skenk, besluit hy toe sommer ook om Zandvlakte te verkoop.
Die oordrag van die grond na die gemeente het nooit plaasgevind nie en
Kruger het die nuwe eienaar van die plaas geword.
Maar nou sal 'n mens wonder hoekom die Krugers so lank geneem het om
die grond aan die gemeente te skenk nadat hulle dié plaas --
waar 'n voormalige SuidAfrikaanse eerste minister, adv. J.G. Strijdom,
groot geword het -reeds 27 jaar gelede gekoop het.
"Nee," sê Kruger se vrou, Magriet, "ons was nooit daarvan bewus
dat Gellman die grond aan die gemeente wou verkoop nie.
"Ons het eers twee jaar gelede daarvan uitgevind toe ons besluit het om
die grond aan die gemeente te skenk. Toe ons die afmetings wou doen,
het ons uitgevind dat die grond reeds afgemeet is," het sy gesê.
As 'n mens mooi luister na Kruger, is dit seer sekerlik veilig om te
sê dat die hele gemeenskap van Zandvlakte gehoor gegee het aan
-soos die Chinese digter Meng Jiao lankal reeds opgemerk het --
"wanneer die verlede verlore gaan, disintegreer die wil".
Dit is op daardie goeie waardes en gedagtes van die verlede waarop die
gemeenskap van Zandvlakte wil voortbou.
Kruger het gesê die belangrike rol wat Hendrickse jr. en sy pa
gespeel het in die verlede, en nog steeds speel, moet nooit vergeet
word nie.
"Dit is ironies dat sowel Allan, wat teen apartheid geveg het, en J.G.,
wat vir die behoud van apartheid geveg het, 'n groot deel van hul
kinderdae hier op Zandvlakte deurgebring het. Allan het nou wel nie
hier grootgeword nie, maar hy het as kind saam met sy ouers baie ure
hier gespandeer. Hy ken baie van die mense by die voornaam. Hy sal
altyd deel wees van ons," het sy gesê.
Volgens Kruger het sy en haar man besluit om die grond aan die gemeente
te skenk om sekerheid aan hulle te verskaf.
"Dit is nie 'n politieke foefie nie, maar eerder 'n poging om die kerk
te beveilig sodat dit sy kultuurhistoriese waardes behou."
Kruger het gesê die kerk is die hart van die hele gemeenskap op
Zandvlakte. "Sonder die kerk sou die mense veel armer gewees het.
Daarom is die mense se morele waardes hier, vergeleke met die stede,
nog baie hoog.
"Familiebande is ook nog baie sterk hier. Deur die kerk te bewaar, kan
ons al hierdie waardes veilig bewaar."
Wanneer die gemeente van die Uitenhage Congregational kerk Saterdag
opruk na die Baviaanskloof om fees te vier oor hierdie historiese
gebeurtenis, sal dit miskien gepas wees om die gedig "Times change" in
herinnering te roep, wat geskryf is in die donker dae van apartheid
deur die skrywer-kunstenaar Peter Clarke: His
great-Voortrekker-grandfather/ would, instead,/ have raised his
voorlaaier/ higher/ and shot me dead. His grandfather and father/ would
rather/ have kicked my black arse/ out of the way/ so that they could
pass./ How nicely he says,/ " Skuustog. "/ Times change./ How strange.
Gegewe die verskeie struikelblokke wat die nuwe Suid-Afrika in die
gestig staar -- veral die onlangse rasverwante voorvalle -kan 'n mens
dan nie anders nie as om die Zandvlakte-gemeenskap 'n klop op die
skouer te gee, omdat hulle gekies het -- soos wat die ontslape
Amerikaanse burgerregte leier dr. Matin Luther King jr. by sy
landgenote gepleit het om te doen -- om te leer om saam te leef as
broers, en nie om saam onder te gaan as dwase nie.
Terug Na Indeks
***************************************************************************************
Gerda Coetzee
BURGER 22 November 2000. Wildernisgebied
kan welvaart na Baviaanskloof se inwoners bring
DIE teleurstelling van twee Amerikaanse toeriste omdat hulle op hul
reis tussen Kaapstad en die Karoo geen enkele bobbejaan gesien het nie,
laat mens besef dat andere duisende kilometers ver sal reis vir dinge
wat vir baie van ons iets alledaags is.
Byna vreemd kom dit voor as jy sou begin tel hoeveel plekke die naam
baviaan dra. Hoeveel bobbejane is daar nog? Toe die Tuinroete nog oor
die ou passe gekronkel het, is ons op die klipmuur in die Bloukranspas
altyd deur 'n yslike ou grootmeneer ingewag. Sy familie was nooit ver
van hom nie.
Geelhoutbome
In die Grootrivierpas was altyd troppe bobbejane. (Word die ou passe
ooit nog in toeristebrosjures genoem? Behalwe die bobbejane sien mens
nêrens elders soveel massiewe geelhoutbome as juis aan hierdie
passe nie.)
Hier by ons in die Oos-Kaap is daar die Baviaansrivier-grondpad
tussen Bedford en Tarkastad. Hier kry jy nog Pringle-nasate, hul
teenwoordigheid duidelik vasgelê deur onder meer die kerkie op
Glen Lyndon.
Diegene wat iets van skoenlappers weet, weet ook van die Pringles van
Glen Lyndon. Hulle het 'n paar vlinderspesies ontdek. Dis die moeite
werd om dié pad te ry, mits jy die tyd het. Bobbejane sal jy
sien, dis seker.
Die ander plek van die baviane wat as bewaringsgebied sterk onder die
aandag is, is die Baviaanskloof tussen Patensie en Willowmore, 75 km
van Port Elizabeth. Pas het 'n volkleurbrosjure oor hierdie gebied,
uitgegee deur die navorsingseenheid vir terrestriese ekologie aan die
UPE, verskyn. Dit is toegespits op die bewaring en
toerisme-ontwikkeling van die gebied.
Die gebied tel onder die vyf grootste bewaringsgebiede in die land.
Die grootte daarvan maak dit een van die min reservate met die
potensiaal om biologiese patrone te bewaar en die ekologiese prosesse
in stand te hou.
Dis al baie jare lank die strewe by natuurbewaarders dat die
Baviaanskloof tot wildernisgebied verklaar moet word, maar Suid-Afrika
het steeds geen wetgewing wat dit moontlik kan maak nie. Toepaslike
wetgewing word glo tans opgestel.
Die Baviaanskloof is die tuiste van die Willowmore-seder (Widdringtonia
scwarzii). Vroeë setlaars het wild onder hulle gekap en dit het
bygedra tot die bedreigde status van hierdie bome.
Twee spesies broodbome is ook eie aan dié baie besondere
omgewing, waar Nama-karoo en fynbos byna neffens mekaar groei. Die
groot vyf is almal glo vroeër hier aangetref. Vandag het net die
voetslaner
met baie geduld en stamina die voorreg om 'n luiperd in die
afgeleë klowe raak te loop.
Klipwerktuie dui daarop dat mense in die Steentydperk hier bedrywig
was. Ook die San en Koisan het almal hul spore hier gelaat. Daar is
byvoorbeeld 9 000 jaar oue putte, uitgevoer met onder meer gifbol,
ontdek waarin saad gestoor is.
Wanneer die eerste blanke setlaars daar aangekom het, is nie heeltemal
opgeklaar nie, maar die eiendom Zandvlakte is byvoorbeeld reeds in 1817
verkoop. Daar is grafte wat van 1776 dateer.
Vandag woon daar steeds 1 500 siele in die Baviaanskloof. Baie van
hulle word deur armoede geknel, want werkgeleenthede is skraps. Tog
openbaar hulle 'n verknogtheid aan hierdie stuk aarde wat 'n mens
verstom.
Daar is darem nog vier laer skooltjies in die kloof. Trouens, in 'n
maatskaplik-ekonomiese opname wat die Raad vir Geesteswetenskap-like
Navorsing in 1996 gedoen het, is bevind dat 79% van die kloof se mense
geletterd is. Ongeletterdheid kom net by mense bo 60 voor.
Die opname het ook getoon watter belangrike rol die kerk in almal se
lewe speel. Jare lank was die Baviaanskloof die grootste
saadprodu-serende gebied in die land. Dis steeds saam met volstruis- en
veeboer-dery 'n belangrike bron van inkomste vir die boere.
Praat jy met die mense wat in die Baviaanskloof woon, vertel hulle dat
die verkeer in die kloof kwaai toegeneem het. Volgens statistieke van
1996 het sowat 10 000 mense toe jaarliks die kloof besoek. Inwoners is
oortuig dat dit sedertdien verdubbel het.
Die verklaring tot en ontwikkeling as wildernisgebied kan waarskynlik
groter welvaart skep. Die groot uitdaging is sekerlik hoe jy mense wie
se voorgeslagte hulle langer as 200 jaar gelede hier gevestig het, kan
tegemoetkom.
Voor jou besoek aan die Baviaanskloof kan jy gerus 'n draai by jou
naaste boekwinkel maak. As jy dan nie meer 'n enkele eksemplaar kan
vind van P.H. Nortjé se jeugromans wat hulle in die
Baviaanskloof afspeel nie, kan jy in sy nuutste boek, Volstruis, lees
hoe hy dit ervaar het om ná baie jare na sy geboorteplek terug
te keer.
Terug Na Indeks
**************************************************************************************
Hannes Cilliers: 15 Junie 2006
"Ek het 'n droom," sê Hans Walvis lank, lank gelede vir my. "Voordat hulle my
inspit, wil ek nog so 'n groot draai deur Suid-Afrika gaan ry.
"Dit sal lekker wees." sê ek gedienstig.
"Maar jy moet saamgaan," vervolg hy skerp.
Vroeg vanjaar is daar toe weer 'n oproep van mater Hans.
"Jy moet jou reghou - ons gaan toer," sê Hans daar uit Walvisbaai.
"Baviaanskloof toe ook. Wat is die beste tyd in die jaar om dit te doen?"
"Meimaand," sê ek dadelik, gedagtig aan my bergklimondervindinge in al vier provinsies toe ek nog jonk was. (En móés ek daaraan herinner word toe ons later buitengewoon vroeë Kaapse winterweer op die lyf loop!)
Die Groot Reis van die Gryses het sesduisend kilometer deur Suid-Afrika geword. Die reis het in Pretoria afgeskop. Hans Walvis se Nissantjie het toe reeds die pad tussen Walvisbaai en Pretoria rooigeverf. Die volgende been was Port Elizabeth - Baviaanskloof. Vriend Sam se Condor het daar in die Baai gereed gestaan om ons 'die Kloof' in te neem. Die aanvanklike droom was om besondere mense op besonder plekke te ontmoet. Die Baviaanskloof was nommer een op ons lys. Ons wou nog altyd vir Piet en Griet van Zandvlakte ontmoet.
In my agterkop wou Sam se baard bekend wees. Die voetspore in die onthou wou net nie rigting kry nie. Dis eers op die eerste staning toe die lig op Sam se profiel anders draai dat sy natuurlike bloedrooi baard waar dit nog nie grys geword het nie 'n storie word. Dit is die held uit die Rooijan-boeke van my jeug! Al verskil is dat Sam nou na 'n middeljarige Rooijan lyk. En die Amatolaberge lê 'n entjie hiervandaan ...
Ek het 'n swak vir name en hulle herkoms en betekenis. Reeds duskant Hankie waar ons afgedraai het van die hoofpad Kaapstad toe, het die name my getref. Loerie. Hankie. Patensie. Luister net na die musiek daarin.
Hankie: die laaste rusplek van Sarah Baartman - die wêreld se heel beste voorbeeld van steatopigie. Vlak neffens dié baken van herskryfde geskiedenis is 'n sonnewyser so groot soos 'n skoolkrieketveld. 'n Mens moet van Sarah se koppie afkyk na onder om die volle omvang te waardeer. Die skaduwee staan so ongeveer regoor die negende aalwyn op ons eerste stop.
Ons ry deur eindelose sitrusboorde in die Gamtoosvallei en ek doen wat my oupa my geleer het: knip 'n uiltjie as daar niks nuuts te sien is nie; dit kan later voordelig wees.
Gamtoos. Plek van die Leeu in die Koi-taal. Só meen die mense van die vallei. Dalk nie.
Terwyl ek wegdommel, begin ek wonder of ek Saartjie Baardman nie verkeerd oordeel nie. As dit nie vir die Bybelse Rut en Tamar en Ragab was nie, het die geskiedenis van die Weste dalk anders uitgedraai, lê ek en mymer.
Dié hele aanloop tot die Groot Reis spoel deur my geheue toe Sam die Condor skielik tot stilstand bring en sê: "Kyk die oumansbaard!"
Ons was nog nie ver in die ware Baviaanskloof op nie toe ons op dié feetjiewoud afkom waar die ligeen, ook bekend as 'n soort korsmos, in stringe van die geelhoutbome in die 'Poortjies' hang. Dié plantspesie word net in die onbesoedelde woude van die wêreld aangetref.
Ek ag dit raadsaam om nie te vertel nie dat dit my herinner aan Sax Rohmer se boeke oor die fiktiewe Chinese dr Fu-Manchu wat so 'n baardjie had en my kleintyd diep onder die komberse laat wegkruip het.
Die eerste indrukke van die Baviaanskloof is berge en berge en berge. Soos wat die, nou skaarsbestaande, pad al nouer en steiler word, die afgronde hoër, die afgesonderdheid meer intens, is dit of die wildernis 'n mens wil insluk. Maar die pleknaamborde wat van tyd tot tyd opduik laat 'n mens kennis neem. Skielik is die wildernis nie meer net 'n koue wetenskaplike bewaringsgebied wat Latynse name vir die 2 000 plus plantspesies, 300 soorte voëls en hordes ander dierespesies in die gebied inspireer nie. Die naamborde verander die avontuur al hoe meer in 'n kultuurhistoriese storie vol patos en intrige.
Daar is Comdomo van Natuurbewaring - hoe meer dinge
verander, hoe meer bly dit dieselfde.
Cambria - die plek wat 'n Skot na sy tuiste vernoem het.
Combrinck-se-Berg waar die historiese klipmure 'n eie verhaal vertel van grense
wat met klip gestippel was. Kilometers aanmekaar is hierdie skeiding tussen dier
en roofdier met hande gebou. Eeue terug. Dis ook die plek van die kettinghek
waar ossewaens met ysterkettings teen die berge afgehelp is. Dit was ook die
ossewaens se oorstaanplek op die tog vanuit die Baviaanskloof na Humansdorp. Die
ou kabelspoor, gebou met esels, is een van daardie verhale van
deursettingsvermoë en kreatiwiteit wat in 'n daad vertel word.
Ons is Combrinck se berg af. Tussen Doodsklip en
Rooihoek is ons oor die Kleinrivier-se-nek, waar Poepstoot in die blou-draaie 'n
verhaal van 'n steil opdraande met benoude osse vertel. Dis ook waar oorle ou
Piet dood
gevind is. Te veel turksvye was die oorsaak. Verstop.
Doodsklip self, so lui die legende, is die plek waar 'n
paling 'n man van die rots af in die water ingetrek het wat die vislyn aan sy
tone vasgebind het en 'n slapie wou inpas.
By Elandsvlak, waar die pad rooidraaie maak, is die
grotte wat die Khoi en San mense, honderde jare gelede, met tekeninge gevul het.
'n Kultuurskat wat nie oop is vir die publiek nie. 'n Mens moet hier gebore wees
om te weet waar hulle is en die boorlinge verklap niks. Dis beter dat sommige
dinge ongesê bly, word gereken. Nie alle 'belangstellendes' het edel motiewe
nie.
Daar is selfs sogenaamde argeoloë wat byle en bytels in hulle 'navorsing' gebruik, en dit, sou ons later uitvind, staan die boorlinge geheel en al nie aan nie, vandaar die stilswye.
By Rooihoek het ons middagete geniet. Die witsandstrand en die diep swempoele in die rivier was van daardie klein bietjies hemel wat net so af en toe op 'n mens se pad gebeur. Dis een van daardie plekke waar 'n mens die natuurkragte en ekosisteme kan sien gebeur, as jy stil genoeg sit. En dié het ons gedoen. 'n Mens kan nie anders nie. Die impak is te groots.
Ons was drie op hierdie reis. Sam was ons toerleier, kok, bestuurder. Vrind Hans, met sy kamera op 'n driepoot, was die bobbejaanbrandwag van die driemanskap. Die berge, voëls, wild en blomme het hom goed besig gehou. Ons moes oral stop en uitklim. Dis net die rooi heide wat hom ontwyk het.
Mens en dier kon hier oorleef. Die Khoi en San, die pioniers het hier medisyne gevind teen slangbyte, koors, diarree, dehidrasie, verkoues, en ander kwale. Plante soos die agt-dae-geneesbos, wilde viooltjies, tokkelossiebos, pampoenbossie, kwaggavy, spekboom en bitter aalwyn het oorlewing in 'n ruwe wêreld gewaarborg. Toe word dit 'n wêrelderfenisgebied verklaar. Met goeie rede ook. Daar is min plekke op hierdie ou planeet waar soveel skatte so op-, by- en teenmekaar aangetref word.
Dis op Zandvlakte die aand, by lanterns op die gras, rondom 'n feesmaal vir konings voorberei, met Piet en Griet as geselskap, dat ons eers die stories agter die plekname sou kry. Ons was vir drie dae daar ingeboek.
“'n Mens doen nie hierdie 200 kilometer pad in 'n dag nie,” sê Griet aanvanklik toe ons bespreek. "Maak ook seker julle voertuig is 'n 'convertible'. In hierdie wêreld ry ons niks wat nie in 'n duikboot of 'n hoenderhok kan verander nie.” Dis seker waarom hier nie Porches en Ferraris rondhang nie.
"Ja, dis nie 'n plek vir sissies nie.”
Vir meer as driehonderd jaar is dit waar. Mense wat hier woon se waardes is suiwer. Op die man af. Poeierkwaste sal nie oorleef teen die vloede,droogtes, ontberings en onmeetbare ruimtes nie. Die gang is rustig. Daar word nog tydgemaak vir mense; vir storiesvertel. Vir baie lag.
Theuns Jordaan, hoeka 'n seun hier uit die oop Karoo anderkant Willowmore, sing van pampoene op die dak, en Gucci op die sak.
“Dis ons daai en dis lekker,” merk Griet op. “Sy pa was hoeka ons streekskommandant gewees. Dis nou die mense wat ons vrouens hier in die vallei paraat teen die Rooi Gevaar moes kom maak. Wat hulle waar kry? Die onervarenheid, bedoel ek. Die luitenant wou nog vir ons wys hoe werk 'n ryding se enjin, toe was sy voertuig se enjin al amper halfpad uitgehaal. Hierdie pad het ons jare terug al paraat gemaak, man.”
Dis net advokaat JG Strijdom se pa, oom Pieter Strijdom, wat 'n Studebaker kon bekostig. Die eerste motorkarre, die Model A en - T Fordjies, moes in trurat teen Nuwekloof se withoogte uitgaan. Die wiele was vol renosterbos gestop. Uit ervaring was dit die inding gewees. 'n Mens kon tot vyf-en-twintig papwiele op een trip dorp toe kry in daardie dae. Die pad was toe mos grootliks in die rivierbedding af.
Daar by Vensterklip by Nuwekloof, moes ons die tweede dag hoor, was die veldslae met die Britte. Dié rots het 'n gat in waardeur 'n paar geweerlope kon steek. Die pad maak daar 'n bottelnek deur die berg. Dis hier waar 'n Boertjie senuweeagtig te vroeg begin skiet het en toe 'n Tommie in die sak skiet. “Maar 'n mens moet liewer sê die Tommie was net ongemaklik gewond” - was die advies van 'n televisie regisseur wat hier kom film skiet het vir Uit en Tuis.
In Willowmore se dorpsbegraafplaas lê die grafte van die Britse soldate wat in 'n hinderlaag gesneuwel het in Nuwekloof. Dit was 'n warm dag. Tyd vir wag was daar nie. Die mense moes begrawe word. Daar was net tyd vir vlakgrafte. Twee dae daarna, toe die oorskotte nog nie afgehaal is nie, het 'n skaapwagter laat weet: die Boere moet kom. Die jakkalse grawe die grafte oop. Die lyke is per ossewa Willowmore toe geneem en behoorlik deur die destydse NG predikant begrawe. Die Boere het die families in Engeland laat weet om grafstene te stuur wat die Baviaansklowers self daar gaan oprig het.
“Sê nou dit was nie 'n 'gentlemen's war’ nie,” mymer Griet. "Dis hierdie mense se integriteit wat hierdie wêreld se geskiedenis anders skrywe.”
Lang Piet neem ons op 'n laatmiddag safari teen Zandvlakte se berg op waar ons 'n glasie wyn sit en drink terwyl die son om ons sak. Dylan Thomas beskryf hierdie oomblikke so: “Do not go gentle into that good night. Old age should burn and rave at close of day; Rage, rage against the dying of the light.”
Dis die tweede aanhaling wat daar teen Hans Walvis se muur geplak was. En dit sou die Groot Reis aanstig. Ook hier waar ons toe sit. Die missie het ons twee gryses daar op die berg vasgegryp voor die son sou sak.
Hierdie wêreld vang 'n mens onkant. Die pad op 'n landkaart is 'n ander ding as dit gery word. Piet Kruger wys vir ons hoe die ekosisteem in die vallei werk. Daar ver onder lê die rivier uitgestrek. Die bewustheid van 'n lewende planeet raak al hoe sterker. Die hartklop van die planeet is hier sigbaar.
Ons staan op die berg en sien hoe die Tanqua Karoo gevorm is. Aardbewings en vulkaan uitbarstings het Gondwanaland gebreek. Hierdie bergreekse is 278 tot 230 miljoen jaar terug gevorm. Dis toe die Swartberge, die Sederberge en die Baviaanskloofberge gevorm is. Die bergreeks vorm deel van die Tafelberg sandsteen formasies.
Die Baviaanskloof is nie net 'n ekoloog se droom nie. Dit is 'n sieraad vir die geoloog ook. By Sewefontein spuit die water bokant die grond uit. 'n Artesies bron wat sedert 1954 nog nooit verswak het nie. Rondom die fonteine groei reuse Kaapse Trosvye in digte woude. Die water syfer oral teen die berg uit.
Klein Karoogebied, sê dié wat weet. En dis waar die wonder gebeur. Die water is volop en vars. Anderkant die Baviaanskloofberge aan die Willowmore/Steytlerville kant, is dit brak. Hier in die vallei voed dit ses van Suid-Afrika se biome wat tussen die Baviaanskloofberge aan die noordekant en die Kougaberge aan die suidekant saamgegooi is. Dis nie net asemrowend nie, dis 'n ekologiese wonderwerk.
Dis oor die water wat die klowenaars aanvanklik nooit by Willowmore wou inskakel nie. Wie wil met 'n woestyn geassosieer word? Die vallei se mense is oor die berg, verby Port Elizabeth, Grahamstad toe. Vir troues, universiteit, hofsake. Vir kerk was Steytlerville, net hier oor die berg, gekies. Dis totdat die inwoners hulle eie kerk in die laat 1800's hier in die Baviaanskloof gebou het. Dit het op Doringkloof gestaan maar is met die 1917 vloed weggesleur deur die water. Toe word 'n nuwe kerk hier op Zandvlakte gebou by Gannaland-se-kloof. Teen die berg. Dis die kerk, met sy handklok, sy traporrel en geelhoutvloere wat vandag nog in gebruik is. In die konsistorie staan die oorspronklike bed nog wat vir dominees ingerig was waarop hy kon rus na die langpad van Willowmore af.
Ons spandeer die drie dae op die geskiedkundige plaas Zandvlakte. Dis 'n plek wat 'n politieke pad geloop het. Adv. JG Strijdom, eerste minister van Suid-Afrika het hier groot geword tot en met sy jonkmansjare toe die plaas in 1925 verkoop moes word na die val van die volstruisbedryf. Onder 'n akkerboom in die tuin het eerwaarde Alan Hendrickse se pa 'n Congregational Kerk kom stig in 1935. Twee leiers wat geskiedenis sou maak in die land het dieselfde plek as sielestut gehad. Die een sou aanspoor en die ander een sou dieselfde ideologie beveg. Die twee mense het mekaar nooit geken nie maar beide het die geskiedenis van Suid-Afrika help skryf.
Ou mevrou Strijdom het geweier dat die mans haar huis
in die aande ongewas betree. 'n Badhuis is buite op die werf ingerig en 'n bad
gebou waarin tien mans met gemak kon bad. Dit kan as een van die oudste en
miskien eerste solariums in Suid-Afrika beskou word. Die water het daardeur
gesirkuleer. Warm in die winter, koud in die somer. Die Krugers beplan om dit in
'n kommunale kuierplek vir gaste te omskep.
Ons stap tussen ou klipkrale rond wat vermoedelik in die omgewing van 1875 gebou is met skulpgruis en klip. Volstruis drukgange is met ou ossewa aste gemaak. Piet het dit nog tot onlangs toe gebruik. Kommassiekloof se Lister, deur ou meneer Gelmann nog opgerig, pomp water 900 meter teen die berg uit vir die wild en vee daarbo.
Dis ook die plek van Piet se luiperds. "Dis 'n territoriale dier," sê Piet. As jy die luiperds met rus laat, hou hulle self vreemde luiperds uit die gebied uit.
"Ek betaal liewer 'n luiperd 'n skaap per maand om die dassies en bobbejane in toom te hou, as wat ek nou honde, jagters, gewere en voorrade moet aanhou wat dieselfde werk ten duurste moet doen. Dis wanneer die residensiële luiperd doodgaan wat daar vir 'n paar weke amok gemaak word tussen die skape. Dis die tyd wanneer nuwe luiperds in beweeg om die gebied oor te neem en skape dan 'n maklike teiken word vir jag. Maar daar's nie baie mense wat met my saamstem hieroor nie."
"In die dertig jaar wat ek hier boer was daar drie insidente met luiperds waarin bokke gevang is op groot skaal. Maar man, as 'n bok wil dom wees moet hy maar ly. Hulle loop ruik mos aan 'n luiperd. Dis nie 'n ding wat 'n skaap sommer sal doen nie. Ek het baie groter probleme met bobbejane wat skape eet. Luiperds kom nie naby die skade wat Kees aanrig nie. Die probleem met rooikatte het gekom toe die jakkalse uitgeroei is in die vorige eeue. Jakkalse en rooikatte het mekaar se kleintjies geëet. Dis hoe die natuur getalle beheer.”
Zandvlakte laat nie die jag van luiperds toe nie. Punt. Koedoes, ja, maar ook net vir eet. Hier is nou te veel koedoes. Die erosie van oorbeweiding word al hoe meer sigbaar in die bewaringsgebied. Dit gaan nog probleme veroorsaak as die getalle nie beheer kan word nie. Dis reeds 'n groot probleem.
Ons toer in die drie dae deur die vallei en besoek ander plase. Ons ry verby die Raaskrans, Moordkrans, Donkerkloof, met die bergpieke soos Scholtsberg en Sepoon-se-kop wat bokant die vallei uittroon. Die mense is eksentriek, uniek, gasvry. Die vallei word opgeskerp vir toerisme. Al hoe meer. Dit word 'n kosmopologie van kulture. Baie gewild. Al hoe meer gesog. Hier is meer jongmense as oumense. 'n Teken van gesonde vernuwing.
"Dis 'n wêreld waar oud en nuut simbiotiseer," sê Griet. "Ja, ons ossewaens het V8 enjins in, maar dis ten minste convertibles. Wat kan julle daar buite anders doen as spin met julle windgat wiele?"
Ons het gou besef dat rustigheid net 'n illusie is in hierdie wêreld. Hier word alles self gedoen. Dokters is lankal nie meer beskikbaar nie. 'n Mens improviseer maar in nood. Vuur en water werk. Net soos in die natuur.
Dis nie 'n plek waar 'n mens voete van jou hande kan maak nie. Jy moet kan raakvat, vasvat en goed vooruit beplan. As verveeldheid jou hier betrap het jy hulp nodig. Ernstige hulp. So sê die inwoners.
Die kloof het 'n sleutel ook. Daar in Nuwekloof se bek sit die rots wat net-net nie die bek toeval nie. Dit word elke jaar gemonitor. Nie dat daar meer 'n padadministrasie bestaan nie. Die boere hou die pad in stand.
Die plek word al hoe gewilder, die verkeer swaarder, en as dit nie vir die boere was nie, sou baie meer toeristevoertuie al hier onklaar geraak het.
Maar kry nou die logika by die dromers in hulle stadskantore tuisgebring. 'n Mens kan nie 'n wêreld bemark en dan agteroor sit en kyk hoe die pad tot niet gaan nie. As die dromers nie mense in die gebied wil hê nie, moet hulle ophou om die plek te bemark. Maar nou ja, die bemarking word gedoen om salarisse vir die dromers gefinansier te kry daar in hulle stadskantore, baie ver weg van die Baviaanskloof. Dit maak nie rêrig saak wat die gevolge en uitgawes vir die inwoners van die gebied is nie. Dit maak mense moerig wat die rekening vir stommiteit moet betaal. Maar, soos met alles in die kloof, word hierdie uitdagings ook net aanvaar.
Hier tussen die Kouga- en die Baviaanskloofberge skryf die natuur en die mense 'n geskiedenis in eie woorde. Dis die eintlike storie van die Baviaanskloof. Die rigiede, koue wetenskaplike storie kan 'n mens oral gaan haal. Maar die hart van die plek vind 'n mens hier in die vallei tussen die mense; om braaivleisvure; en laataandkuiers onder die sterre. Soos dit hoort.
Die herinneringe aan hierdie epiese tog lê in my diepste wese vervleg in fragmente. Dink ek aan een episode, doem ander episodes wat daarmee saamhang in my geheue op. Teen Hans Walvis se studeerkamermuur, op 'n stuk verweerde rekenaarpapier teen die muur vasgespyker, vind ek by die voltooiing van die epiese reis hierdie woorde:
"Life's journey is not to arrive at the end safely in a well preserved body, but rather to slide in sideways totally spent."
Baviaanskloof het toe vanself woorde op papier begin sit. Van oumansbaard en oumansdrome wat plek loop soek het om te wortel. Vir ons twee gryses was dit 'n regte besluit.
Dié aanhaling is natuurlik nie volledig nie. As ek reg onthou, eindig dit met die woorde: “. . . shouting, holy shit . . . what a ride!"
Ek weet nou waarom mense hierdie vallei weer en weer wil beleef.
Terug Na Indeks
English articles
*****************************************************************************************
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()